SA Kunsaas Hengel Nasionale Kampioenskappe 2023

Deur: Daantjie Botha.

Die Suid-Afrikaanse Kunsaashengel Vereniging se nasionale kampioenskappe is onlangs beslis op Witbankdam in Emalahleni, gedurende 25 Maart tot 3 April 2023.  Mpumalanga, in samewerking met Steve’s Place oord, het gedien as die gasheer provinsie en hengel basis vir die toernooi. Die room van Suid-Afrikaanse kunsaas hengelaars was tydens die kampioenskappe teenwoordig.  Vier dae se strawwe hengel (twee oefen dae en twee kompetisie dae), en die uiteindelike wenners kon met die louere wegstap en aanspraak maak as die beste kunsaas hengelaars in Suid-Afrika.

Na afloop van die nasionale kampioenskappe, word ‘n nasionale proewe om Protea kleure te verwerf, oor vier dae gehengel (twee dae vir junior hengelaars onder 18 en twee dae vir senior hengelaars).  Tydens hierdie proewe, word daar nie meer in span verband gehengel nie, maar op individuele vlak.

Spanne hengel per boot, en die sport van kunsaas hengel behels die vang van soveel as moontlik verskillende vis spesies op een dag; met slegs kunsaas as lok middel.  Wurm en pap se kind word ongelukkig nie hier toegelaat nie! Witbankdam is alombekend onder baars en karp hengelaars, maar min weet dat hierdie dam bevat wel ‘n groot verskeidenheid vis spesies, wat suksesvol met kunsaas aangekeer kan word.  Babers, Karp, Grootbek baars, Kleinbek baars, Vlei Kurpers, Dwerg Kurpers, Grootskub geelvis, Kleinskub geelvis, Ghieliemientjies en Muskietvis was in die hengelaars se visier.

Die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe word op ‘n punte stelsel beslis – met vis verskeidenheid en vis gewig as die beslissende faktore.  Sodra ‘n vis gevang word, moet hy aan ‘n spesifieke minimum lengte voldoen om geweeg te kan word deur ‘n inweeg beampte aan die einde van die dag se hengel.  Visse word in die boot se “live well” deur die dag, lewendig gehou. Verskeie provinsies het in onlangse seisoene beweeg na die meet van visse alleenlik, waar ‘n foto geneem word op ‘n spesiale maatband en ‘n hengelaar se nommer vir die dag saam in die foto verskyn.  Nadat ‘n foto geneem word, word die vis dadelik vrygelaat.  Die meet en vrylaat van vis spesies is hoofsaaklik om vis welstand te bevorder, maar ook om toe te sien dat veral ons inheemse spesies so gou as moontlik kan terugkeer na hul habitat en/of nes areas.  Die meet van visse val ook in lyn met die internasionale standaarde van die wêreld hengel liggaam FIPSED (The International Federation of Sport Angling in Fresh Waters), waarvan die Suid-Afrikaanse Kunsaashengel Verenging ‘n lid is.   Die FIPSED lidmaatskap deur die Suid-Afrikaanse Kunsaashengel Vereniging, maak dat Protea hengelaars aan die wêreld kampioenskappe kan deelneem en uiteindelik geleentheid het om as wêreld kampioene gekroon te kan word.

Terug op eie bodem.  ‘n Spesie punt word toegeken deur ‘n vis met kwalifiserende lengte te vang.  ‘n Gewig of faktor punt, word ook uitgewerk gebaseer op die vis se kwalifiserende lengte en die gewig van die spesie.  In ons Suid-Afrikaanse hengel waters is daar verskeie spesies wat nie meer as 50-100mm lank word nie, soos Muskietvis, Dwerg Tiervis, Ghieliemientjies, Rivier Sardyn (Glasvis) en Dwerg Kurpers om ‘n paar te noem.  Hierdie spesies het nie ‘n minimum kwalifiserende lengte nie en word ook nie geweeg nie. Slegs ‘n spesie punt word ingepalm sou die hengelaar een van hulle aankeer.  Hierdie “dwerg spesies” het wel almal hul eie gewoontes en habitat binne die groter ekosisteem en kan dikwels ‘n reuse uitdaging wees om te vang – wat waardevolle punte in die kunsaas hengelaar se sak besorg.

Die hengelaars het Saterdag 25 Maart gearriveer vir span registrasie. Tydens die verwelkomings braai is strategieë en moontlike hengel areas al ywerig bespreek in afwagting op die twee oefen dae. Vroeg-vroeg tydens die oefen dae se hengel, het Witbankdam sy kleure gewys en die hengelaars het besef dat daar bitter hard gewerk gaan word om ‘n groot verskeidenheid spesies aan te keer. Op ‘n tradisioneel Swartbaars vriendelike dam, kon daar gemaklik op hierdie spesie staat gemaak word.  Kurper spesies asook Karp en Babers sou egter moeilik bekombaar wees met slegs ‘n paar areas wat hierdie spesies huisves.  Die figuurlike koring sou behoorlik van die kaf geskei word in die twee dae van klipharde kompetisie hengel.

Dag een van die kampioenskappe het plaasgevind, Dinsdag 28 Maart.  Om 6h30 is kapteins vergadering gehou waar hengel en veiligheids reëls vir oulaas voorgelees is.  Om 7h00 het die kampioenskappe amptelik begin met bote wat haastig vertrek na die hengel areas wat hopelik sou vrug dra in die twee dae wat voorgelê het.  Die ondervinding op die water, was dat baars hengel betreklik maklik was, soos wat verwag was. Baars is aangekeer op verskeie areas, veral die rante van gras lyne met finesse aanbiedings van plastiese wurms, hoofsaaklik op medium tot ligte gerei. Van die deelnemers het ook sommer gulsige baars opgetel het met karp loodkoppe – ‘n duidelike aanduiding dat Witbank se baars lekker aggressief is.  Verskeie hengelaars kon in afgesonderde baaie tussen klippe, riete en water gras gesonde eksemplare vlei kurpers en dwerg kurpers aankeer.  Vlei en Dwerg kurpers vorm die basis van swartbaars se dieet in meeste van ons damme in die sentraal en noordelike streke van ons land.  Enige beskutte area wat beskerming kan bied teen roofvis, moet beskou word as ‘n moontlike area waar hierdie klein kurper spesies aangetref kan word. Powerbait plastiek balletjies in geel, pienk en groen asook klein en medium grootte krulstert wurms (curly tails) het die flous werk gedoen.  Babers en karpe was egter so skaars soos hoendertande – en hengelaars het besef dat die vang van een of beide hierdie spesies deurslaggewend sou wees om die uiteindelike wenners te bepaal.  Teen 17h00 was dit die einde van dag een se hengel en ook die halfpad merk van die toernooi. ‘n Totaal van ses spesies is gevang vir die dag (Baber, Volskub Karp, Grootbek Swartbaars, Vlei Kurper, Muskiet Vis en Dwerg Kurper).  Mpumalanga se A-Span (Johnny Williams, (Snr), Johnny Williams (Jnr), Henry Fourie en Fanie Fourie) en Noord-Gauteng se B3-Span (Tersius Oosthuizen en Johann Roux) was die voorlopers in die Senior A en Senior B afdelings onderskeidelik. Noord-Gauteng J3 ( Wiaan Visagie en Christiaan Visagie) het die pas aangegee in die junior afdeling.

Die tweede en laaste dag van die kompetisie se punte, sou by die eerste dag se punte gevoeg word om die algehele wenners te bepaal.  Met die aanbreek van dag twee het hengelaars geweet daar sou diep gedelf moes word om as wenners gekroon te word.  Voorlopers na dag een, sou hul een hand op die trofee wou verseker, maar die ander spanne binne tref afstand, sou hoop om die agterstand uit te wis om met die titel weg te stap.

Die weersomstandighede was hoofsaaklik bewolk met wind wat ‘n konstante faktor was, beide in die oefen dae en die toernooi.  Die laaste dag was weereens geen uitsondering nie.  Kunsaas hengelaars, en meeste boot hengelaars in die algemeen, weet dat mens saam met Moeder natuur moet werk eerder as teen haar, om konstante resultate te kry.  Van die baaie wat bietjie meer beskerming teen die wind gebied het was dikwels die eerste stop vir meeste hengelaars.  ‘n Interessante waarneming is dat verskeie vis spesies slegs aggressief was tydens sekere tye van die dag. Karp het meer in die middel van die dag gevoer in vlak water. Hulle is op sig geteiken met 12-14ft dip stokke.  Klein tot medium grootte loodkoppe is aangewend met ‘n krulstert wurm as aanhangsel op die hoek.  Babers het ook meer aktief begin raak soos wat water effens warmer geraak het deur die dag.  Die roep van babers in digte water gras en onder bome in die rivier area het vrugte afgewerp vir die hengelaars wat op die regte tyd, op die regte plek was.  Die hengelaars se dag beplanning moes by die weer en voer tydperk van die onderskeie spesies inskakel om ‘n kans te staan om sukses te behaal.

 

Na afloop van die tweede dag se hengel het dieselfde 6 spesies wat ook tydens dag een gevang is uitgekom. Die punte is uitgewerk en die algehele wenners bepaal.  In die A-Span afdeling het die span van Sentraal Gauteng (Sampie Britz, Pieter Reynecke, Leon Steyl en Edrich Reynecke) hul agterstand uitgewis en Mpumalanga naelskraaps verby gesteek om met die louere weg te stap. In die B-Span afdeling het Mpumalanga B1 span (Theuns Brecher en Noddy Naude) ‘n reuse terugveg poging aangewend om goud in te palm vir die laevelders.  Noord-Gauteng J3 het hul wurg greep van dag een verstewig om met die eerste plek in die junior afdeling weg te stap.

Die prysuitdeling seremonie het by Steve’s Place oord plaas gevind, waar ‘n heerlike ete en funksie geniet is.  Ou vriendskaps bande is weer verstrek en verhale oor dit wat was en kon wees tydens die kampioenskappe, is uitgeruil onder die hengelaars teenwoordig. Die 2024 nasionale kampioenskappe word deur Noord-Gauteng aangebied met Sterkfontein Dam as hengelwater. 

Indien die sport van kunsaas hengel jou belangstelling prikkel, kontak gerus jou naaste kunsaas hengel klub en raak deel van hierdie unieke en opwindende sport binne die hengel gemeenskap.  Skakel gerus op die SAALAA (South African Artificial Lure Angling Association) Facebook blad in vir meer informasie.

Share the Post: