Deur: Daantjie Botha.
Die Suid-Afrikaanse Kunsaashengel Vereniging se Protea proewe het na afloop van die nasionale kampioenskappe op Witbankdam in Emalahleni, gedurende 30 Maart tot 2 April plaasgevind. Die proewe het oor vier dae gestrek, waar juniors onder 18 die eerste twee dae hengel en die seniors in die laaste twee dae meeding om hul Protea kleure te verwerf. Anders as die nasionale kampioenskappe waar spanne in spanne van twee of vier hul provinsie verteenwoordig, word die proewe op ‘n individuele basis gehengel.
Verskeie hengelaars was betrokke by die Nasionale Kampioenskappe wat oor die voorafgaande vier dae plaasgevind het, en hul sou elke stukkie kennis wat hul opgebou het, moes aanwend om die mas op te kom teen die top kunsaas hengelaars in Suid-Afrika.
Die hengel omstandighede was weereens taai, met Witbank dam wat vir oulaas net nie wou bes gee nie. Daar was ses spesies wat tydens die nasionale kompetisie gevang was – Baber, Volskub Karp, Grootbek Swartbaars, Vlei Kurper, Muskiet Vis en Dwerg Kurper. Amper asof die geskiedenis homself herhaal, was hengelaars wat Baber en Karp suksesvol kon teiken, amper verseker om bo te eindig.
Tydens die junior proewe het Altus Weimann met die eerste plek behaal. Dit is ‘n besonderse prestasie, wanneer in ag geneem word dat Altus die proewe in 2023 vir ‘n derde keer in ‘n ry wen. Van kunsaas hengel kan jy hierdie man min vertel. Ons het met Altus opgevang na die proewe om bietjie meer te leer oor die jong man wat die wêreld aan die brand hengel.
- Aan watter klub behoort jy?
Classics Spinfishing Klub in Pretoria.
- Watter Provinsie verteenwoordig jy?
Norgalas (Noord-Gauteng)
- Hoe lank beoefen jy kunsaas hengel?
Ek is tans in graad 12, en vang al vir 6 jaar kompeterend kunsaas.
- Hoe het jy in kunsaas hengel begin belangstel en wat hou jy daarvan?
Ek vang al van dat ek kan onthou swartbaars met kunsaas tot ek my skipper, Jannie Erasmus, ontmoet het. Hy het my meer van kunsaas hengel vertel en my na ʼn klub kompetisie genooi. Daarna het die gogga gebyt! Ek wou net meer en meer oor die sport leer. Kunsaas staan uit omdat jy al die spesies in ʼn dam kan teiken, wat ʼn mens nie noodwendig met ander hengel formate soos pap gooi of spesie hengel kan doen nie.
- Hoeveelste SA’s en Protea Proewe neem jy deel?
Hierdie jaar was my 3de keer en ook die 3de keer wat ek wen as ʼn junior.
- Wat is jou gunsteling vis spesies om vang en watter tegnieke en kunsaas gebruik jy om hulle te teiken?
My gunsteling spesie om te teiken is tussen karp en die groter kurper spesies. Karp vang ʼn mens wanneer jy die karp kan sien voer, op die bodem in baie vlak water. Jy sak ‘n loodkop versigtig omtrent 5 cm voor hom neer. Jy kan ʼn karp ook vang as daar baie borrels opkom van die bodem af in modderige water. Jy gooi die loodkop in die borrels en die kans dat hy die loodkop optel is baie goed. Groter kurpers vang ek gereeld klein kunsvissies wat sink of ek gebruik ʼn Salmo Hornet wat sink om hulle te teiken.
- Hoe was die hengel omstandighede tydens die SA’s, en wat het jy geleer uit die SA’s wat gehelp het tydens die proewe?
Tydens die SA’s was die hengel omstandighede baie beter as die van die proewe dae gewees. Ek het op die twee SA’s dae agtergekom waar ek my Dwergkurpers kan vang, en ʼn paar hengel areas geïdentifiseer ek vir Karp en Baber kan soek. Ons het ook bepaal dat daar Vlei Kurpers in die hoof dam is, maar ook in die rivier seksie van Witbank dam.
- Watter patrone kon julle identifiseer tydens oefen dae wat gehelp het met die SA’s en die proewe?
Ek kon agter kom dat die Vleikurpers in die oggend vroeg byt en nie sommer in die middag nie. Ek het ook gesien dat die karpe eers van so 11uur tot omtrent 2uur aktief is. Die bank oorkant die Seiljag Klub raak baie aktief laat middag. Muskietvis het oral gebyt, enige tyd van die dag. Swartbaars het ook nie enige vasgestelde voer tye gehad nie.
- Hoeveel en watter spesies het jy tydens die proewe (Dag 1) en (Dag 2) gevang?
Dag 1 het ek 4 spesies gevang (Vleikurper, Karp, Grootbek Swartbaars en Muskietvis)
Dag 2 het ek 5 spesies gevang (Vleikurper, Karp, Grootbek Swartbaars, Muskietvis en Dwergkurper)
Gedurende die senior proewe was daar strawwe kompetisie, met vele gesoute hengelaars asook verskeie oud-Protea hengelaars wat weer hul hoed in die ring wou gooi om Suid-Afrika te verteenwoordig. Cliff Visagie ‘n bekende gesig in kunsaas hengel kringe, het bo-aan die punte leer geëindig. Vir Cliff is hierdie ‘n droom uitslag, aangesien sy twee seuns Christiaan (10) en Wian (7) ook aan die nasionale kampioenskappe deelgeneem het. Hulle het onderskeidelik 4e en 5e in die Junior proewe geëindig. Ons het vir Cliff bietjie beter leer ken en sy ervaring van die proewe.
- Aan watter klub behoort jy:
Classics Spinfishing Klub in Pretoria.
- Watter Provinsie verteenwoordig jy?
Norgalas (Noord-Gauteng) - Hoe lank hengel jy al Kunsaas?
23 Jaar - Hoe het jy in kunsaas hengel begin belangstel?
Ons was baie bevoorreg om as kinders gereeld te hengel. Toe my pa ons eerste boot aangeskaf het, het ek en my oudste broer Jacques, ook ʼn voormalige Norgalas hengelaar, gou agtergekom dat ons meer vis vang van die boot af met kunsaas, as met aas. Ons het toe by Salmo kunsaas klub in Pretoria aangesluit en daar baie geleer by die veteraan oom Rennie Sada en sy gesin asook Bernard Venter om ʼn paar name te noem.
- Van al die tipes hengel, hoekom verkies jy kunsaas hengel?
Behalwe dat mens soveel meer spesies kan teiken as gewone aas hengel, is dit baie soos jag., Jy soek die vis en moet die vis dan flous met ʼn kunsaas aanbieding. Dis baie meer opwindend!
- Hoeveelste SA’s neem jy deel?
Alhoewel hierdie die 5de S.A toernooi is waarin ek deelneem, was hierdie my eerste S.A Kampioenskap in 10 jaar, nadat ek ʼn breuk gevat het van kompeterende hengel. Ek het in die laaste 10 jaar nooit ophou hengel het nie, en ek en my twee seuns Christiaan en Wian het baie sosiaal visgevang. Stel dit so; ek het vir 10 jaar geoefen deur my seuns die kuns te leer!
- Wat is jou gunsteling vis spesies om teiken en watter tegnieke en kunsaas gebruik jy om hulle te teiken?
Die kuns om ʼn karp te vang op kunsaas moet sekerlik een van die lonendste wees. Die vis spesie is ontsettend ingestel op enige steuring waar dit in vlak water voer. Jy moet baie stadig en geruisloos beweeg. Mens kry een kans om die aanbieding te doen vir die vis. Dan moet jy vashou! Die volgende paar minute flits hordes dinge deur jou kop; gras, struktuur, gaan die vis jou om ʼn boom trek? Waar is die skep net?!
- Hoe was die hengel omstandighede tydens die SA’s, en wat het jy geleer uit die SA’s wat help het tydens die Proewe?
Die omstandighede was nie perfek nie, maar soos enige goeie hengelaar moet jy aanpas. Ons het meestal bewolkte weer gehad met wind deurlopend. Wat ek gou agtergekom het, was dat daar sekere tyd gleuwe is om sekere spesies te vang.
- In kort, hoe het die proewe uitgespeel vir jou?
My plan was om vroeg oggend eerste Swartbaars, dan Dwergkurper en Muskietvis te gaan soek. Van daar, Vlei kurpers en dan Karp en Babers. Dag een het volgens plan verloop. Dag twee het goed begin en 7h15 het ek Dwerg kurper, Muskietvis en Grootbek Swartbaars op die boot gehad. Ek twee vlei kurpers verloor, en moes vir 3 ure baie hard werk tot ek weer ‘n vlei kurper geland net voor 10h00. Dit is toe dat ek besef ek het ek het ʼn kans om die proewe te wen. Ek was 1.5 punte agter mede-hengelaar en goeie vriend Charles Dunstan met die aanvang van dag twee. Ek het my fokus na groter karpe verskuif. Ek het die wiskunde gedoen en geweet as ek ʼn groot karp kan weeg, en nie een van ons kry ‘n baber (babers was baie moeilik) nie, het ek ‘n kans. Ek teiken toe die oewer waar ek dag een my karp gevang het. Ek het ʼn karp gekry wat voer in vlak water, en met ʼn 12ft teleskopiese stok, die loodkop perfek aangebied voor hom en hy was vas – net om los te kom! Ek was oortuig ek het my enigste kans verbrou… Ek hengel verder en kry weer ʼn karp wat voer, bied die loodkop aan en ek voel ʼn ligte tik op die lyn. Ek was aan met ʼn klein swartbaars wat die loodkop voor die karp se neus opgetel het! Gelukkig teen 11h30 haak ek ʼn bielie van Karp (6.66kg). Ek moes omtrent paar gebede doen om hom geland te kry. Ek het die res van die middag babers gesoek, sonder geluk. Ek was dankbaar vir die karp, hy het my laat wen en dit was ook die grootste karp vir die toernooi.
Ek wil graag my ongelooflike vrou Michelle bedank, wat my en ons seuns bystaan deur elke visvang ekspedisie en ons ondersteun in ons sport.
- Hoeveel en watter spesies het jy tydens die proewe (Dag 1) en (Dag 2) gevang?
Dag 1 – 6 spesies (Karp, Baber, Vlei kurper, Dwerg kurper, Grootbek Swartbaars en Muskietvis).
Dag 2 – 5 spesies (Karp, Vlei kurper, Dwerg kurper, Grootbek Swartbaars en Muskietvis).
Mpumalanga kunsaas kan trots wees vir ‘n goed georganiseerde toernooi met hengel herinneringe wat nog vir jare in die gedagtes en harte van hengelaars sal voortleef. Die 2024 S.A. Kampioenskappe en Proewe word aangebied deur Noord-Gauteng by Sterkfonteindam.